vii - Bepeinsings
#
In Toeka se Dae
#
In toeka se dae
Laat ek jou vertel
Het dieselfde ou vrae
Die mense gekwel.
Herinnering
#
Van heel die wêreld
en elke ding
bly daar net oor
herinnering.
Verganklikheid
#
Gedagtig my verganklikheid
Wou ek nog woeker met die tyd
Maar ag! Die jare vlieg verby.
Daar Is Soveel
#
Daar is soveel wat ek wil hê
Maar ek sal dit nie kan kry nie.
Daar is soveel wat ek wil sê —
Maar ek sal dit nooit bely nie.
Daar is soveel
Maar dis nie vir jou en my nie.
Aan die Inspirasie
#
O, soetjies kom jy, onverwags
In die dag en soms ook snags
En jy fluister in my oor
Dinge wat my diep bekoor.
As Lewe Liefde Was
#
As lewe liefde was,
Net liefde teer en rein —
O, hoe was die lewe dan
Die ene sonneskyn!
Pasop!
#
Tussen bewonder en begeer
Moet jy oppas
En net keer!
OOR POëSIE
#
Oor die Duistere Soort
#
Ek het 'n hele duisternis
Van duister verse deurgelees,
En tot my groot ontsteltenis
Is ek net waar ek was gewees!
Oor die Smerige Soort
#
Wie't gesê die sterre stink?
Die gekke!
En wie't gesê die sterre wink?
Dis ekke!
Dus sal ons nooit kan glasies klink,
Die gekke
En ekke!
’n Nuwe Saaklikheid
#
Dis weer 'n nuwe saaklikheid
vermaaklikheid
onsmaaklikheid!
Nagereggie
#
Hoe digter dat 'n digter is,
Hoe groter hy as digter.
En poësie vol duisternis
Maak alles vir ons ligter.
Oerwoud
#
Die oerwoud van beton
Versper die uitsig op my horison.
Ek sou dit platvee as ek kon!
Alleen
#
En is dit dan te veel gevra
as ek alléén wil wees —
gemeen wil wees deur alleen te wees
en tog met jou wil wees?
Die brein- en kosmosgolwe gaan
dwarsdeur die mure heen
na jou — alleen.
Afskeid
#
Hoe swaar is dit om weg te gaan
Hoe bitter om te bly —
Maar omdat ons mekaar verstaan
Sal niks ons ooit kan skei.
Daar’s Geen Lawwe Gedigte in Afrikaans
#
Ou Kas van den Bergh
Het my vreeslik vererg
Toe hy skryf daar's geen lawwe gedigte.
Hy't glad nie geweet nie
Van 'n sekere Keet nie.
En sy ligte Verspotte Gedigte
Die Depressie
#
Die Depressie,
Sê tant Hessie,
Leer vir ons 'n goeie lessie.
Deftige Toespraak
#
Meneer die Voorsitter,
My naam is Kolesky —
Ek praat onder korreksie —
Maar het hierdie eleksie
Enige konneksie
Met die kwessie?
Namens my direksie
Neem ek
ten sterkste
eksepsie
En ek maak dus objeksie
Teen die gruwelike refleksie
Op ons direksie.
Naskrif: Hierdie konfeksie
Is ver van perfeksie
(En nie vir publikasie).
Ek Ken Geen Groter God
#
Ek ken geen groter God
As God die Heer.
Hy triomfeer
Oor mens en dier,
Oor see en berg en dal.
Hy beheer
Die groot heelal.
Stille Skepper
#
Stille Skepper, gee my vrede,
Gee U dienaar werk.
Gaan met my, o, neem my mede,
Maak U maaksel sterk.