iv - In Memoriam

iv - In Memoriam #

Sterwensuur #

O, bloed wat aan my hande kleef
O, bloed van haar wat nie meer leef
Sal ek jou afwas of bewaar -
O, bloed van haar.

’n Kleine Ding #

Laat my maar sing
Van 'n kleine ding —
'n Droewe lied
Van herinnering ...

Hul het haar ring
Na my gebring —
'n Ranke riet
Was my lieweling ...

Ek treur en sing
Oor die kleine ding
Vol van verdriet
Bly my fluistering ...

Vergeef My Dit #

O, Heer, vergeef my dit,
As ek haar so aanbid!
Sy was vir my 'n wonder —
Ek het my afgesonder
Om haar te kan aanbid —
O, Heer, vergeef my dit!

O, Heer, sy was so mooi,
My wonderskone nooi!
Met al haar reine deugde
Was sy my lewensvreugde —
Ek kniel voor U en bid:
O, Heer, vergeef my dit!

Nou Is Sy Weg … #

Nou is sy weg,
En God alleen
Sien al die trane
Wat ons ween.

O, hoe geheg
Was ons aan haar!
Heer in die Hemel,
Ag, hoe swaar ...

Nou is sy weg,
Vir goed daarheen
Waar daar geen trane
Word geween.

Is dit dan reg
Dat ons nog ween?
Gee al ons trane,
Heer, U seën ...

Weemoed #

Ek kan my weemoed uitgil oor die aarde
Totdat die maan en sterre hoor
Hoedat 'n altyd kalm en stil-bedaarde
Mens kan skree wat moed verloor.

O, ek is méég van al die uitgestane,
Ek is sat van bittere dwang;
Ek soek my heil in ingehoue trane,
Dae, nagte lang ...

Ag, liewe Heer, verhoor tog my gebede,
En maak die droefheid in my stil.
Gee aan my siel weer moed, en hoop, en vrede —
Leer my berusting in U wil.

Hoor My Gebed, o, Heer #

Hoor my gebed, o, Heer,
Dit is U kind wat spreek —
Ek kniel weer voor U neer
En kom U nederig smeek:

O, wil U my tog leer
Om dit te kan verstaan:
Dat God die Heer regeer
En nooit 'n fout begaan.

O, wil U my tog leer
By elke ope graf,
Dat U kastyding, Heer,
Is liefdevolle straf.

Haar Rusplaas #

'n Krans van berge
Omring deur die see,
En 'n sipresboom met jou skaduwee —
Dit is wat ek my liefste wil gee.

O, hoë berge,
O, diepe see,
O, sipresboom met jou skaduwee —
Maak haar gelukkig, o, maak haar tevree!

Sovéél Is Daar Geskrewe … #

Sovéél is daar geskrewe,
    So weinig bly bestaan —
Maar van ons liefde-lewe
    Sal daar geen woord vergaan.

Want soos 'n berg verhewe
    Oor vlakteland regeer —
So sal ons liefde ewig,
    Ja ewig, triomfeer.

O, lieflike, o, myne,
    Ons liefde was van God —
Die altyd-soewereine
    Bestemmer van ons lot.

Deuntjie #

My liewe, klein seuntjie,
Ek sing jou 'n deuntjie
Van toeka se dae, en nou nie meer —
    Jy had eens 'n moeder,
    'n Troue behoeder,
Maar nou is sy by onse Heer.

My liewe, klein seuntjie,
Ek sing jou die deuntjie —
Jou pappie se hart is tog alte seer.
    Jou lieflike moeder,
    Ons troue behoeder —
Sy kom nie weer, sy kom nie weer.

O, Ken Jy die Gebed? #

“O, ken jy die gebed,
    Die smeekgebed van my?
Ek wil so graag nog net
    'n Rukkie by jul bly!

Ek sien ek is nou klaar,
    Die goeie stryd gestry —
Maar bid dat God my spaar,
    Al roep Hy ook vir my ...

Ek wil so graag nog net
    'n Rukkie by jul bly —
O, wat 'n vreugde en pret,
    Die kindertjies van my!”

O, Lelieblom #

O, lelieblom wat op haar graf
Die boodskap van my liefde dra,
    Gee haar my groete —
    Bring my die soete
Troos wat 'n minnaar vra.

O, lelie lief, ag, asseblief.
Sê: ek het haar so innig lief!