P.J. Nienaber

P.J. Nienaber (1910 - 1995) #

P.J. Nienaber #

Petrus Johanes Nienaber is in 1910 in die distrik Fauresmith, Vrystaat gebore. Hy het op Boshof gematrikuleer en in 1932 die graad B.A. in Klassieke Tale aan die Grey-Universiteitskollege, Bloemfontein, behaal, gevolg deur die graad M.A. in 1933. Reeds op Universiteit het “Piet” Nienaber op verskillende terreine uitgeblink. Hy is daarna na Amsterdam waar hy (né ‘n onderbreking) in 1938 gepromoveer het en die graad D. Litt. et Phil. behaal het.

Vanaf 1936 was hy lektor Afrikaans aan die Universiteit van die Witwatersrand, vanaf 1957 medeprofessor en later professor in die Vroeëre Geskiedenis van die Afrikaanse Letterkunde. Hy was altesame 36 jaar lank dosent by Wits. Prof. Nienaber het op vele gebiede diep spore in die Afrikaanse letterkundige wêreld getrap. Hy was skrywer of medeskrywer van meer as 500 publikasies en het talle eerbewyse ontvang. Hy was ook die stigter van onder meer NALN en die Vrystaatse Museumdiens.

Hy het later in die distrik Senekal gaan boer en ‘n hegte huisvriend van A.D. en Rina Keet geword.

Senekal
5 Sept. 1947

Dr. P.J. Nienaber
Universiteit Witwatersrand
Johannesburg

Geagte dr. Nienaber

Ingesluit ‘n paar kiekies. Ek is jammer dat ek u so lank laat wag het daarvoor, maar ek was baie besig. U moet nou maar kies wat u wil plaas in u boek. Van my oorlede vrou en my saam het ek geen enkel portret nie, net kiekies, waarvan ek een insluit. Van hierdie een het ek net hierdie kopie en u moet my op u erewoord belowe dat u dit ongeskonde sal terugstuur! Uit my eerste huwelik met “dr. Nell” was daar drie kinders: A.D. jr., die oudste, tans ook dokter; Marie Paulowna (Lowna), wat hierdie jaar moet afstudeer in die Kaap in medisyne; en Jacoba Petronella (Cobie), wat hierdie jaar haar B.A.-eksamen doen te Stellenbosch. Van die briefkaartformaat-foto van myself in 1931 geneem, het ek ook net die een kopie.

Ek stuur aan u ook een van my “allermodernste” kiekies, met eggenote Rina en die drie dogtertjies Ellen, Rosa en Carina – dis ‘n sort van na-oes!

Wanneer verwag u dat u boek gaan verskyn? En gaan die naam wees Jonger Afrikaanse Skrywers aan die Woord (soos u geskryf het), of Jonger Skrywers oor Eie Werk (soos mnr. Sarel Marais skryf)?

Met beste groete

A.D.K.

Quoting letters:

Senekal
21 Nov. 1952

Amice

Ek kom jou opmerksaam maak op D.J. Opperman se verdediging van Antonissen in gister se Volksblad, téén die brief van F.C.L. Bosman. Waarom moeg lg. dan motiveer wat hy sê, terwyl dit reeds deur die prystoekenners en andere oor en oor gedoen is? Miskien en heel waarskynlik is daar meer beskeidenheid in Pretoria as in Grahamstad, of selfs in Kaapstad. In elk geval, ons kan dankbaar wees dat Opperman tot die insig gekom het dat nie é&eacyute;n van sy skool nie, maar Leipoldt ons grootste digter is – Leipoldt wat deur elke redelike wese verstaan en geniet kan word!

Nouja – dit daar gelate (soos ‘n skoolinsprekteur altyd hier gesê het). My vrou en oudstei dogtertjie (van die na-oes!) kom nou net terug van die opvoering van As Ons Twee Eers Getroud is. (Ek moes die jonger twee dogters oppas.) Die saal was vol bespreek en almal het die stuk baie geniet. My oudste dogter, Sussie, oftewel Lowna (tans dokter op Bethlehem), het die opvoering daar bygewoon. Hulle het voorheen 18 maande in Londen gewoon en sê dat dit ‘n toneelstuk is wat enige dag net so goed is as wat sy in die Weseinde van Londen gesien het.

Wees gegroet!

Van jou toegeneë

A.D.K.

Quoting letters:

Senekal
21 Feb. 1963

Amice

Baie dankie vir jou brief van die 30ste laaslede. Ek is bly om te verneem dat jy die vakansie op die plaas geniet het. Ná die stadslewe is dit goed vir ‘n mens, nie waar nie, om weer ‘n slag met die terra bona kennis te maak. Ná ‘n paar dae in die Goudstad hunker ek altyd na die oop vlaktes van die platteland. Dis ‘n sprong van die kunsmatige na die natuurlike wêreld.

Die polemiek Bosman vs. Antonissen, Opperman en Kie. (of liewer omgekeerd) het ek in ‘n hele paar koerante en tydskrifte gevolg. Soe, maar die kêrels het mekaar sleggesê. Ze vlogen elkaar in de haren! Jou kensketsing van die affêre is raak.

Intussen het ek ‘n paar weke gelede besoek gehad van Opperman, wat ‘n draai gery het (saam met ‘n vriend uit Kaapstad) om te kom kennismaak. Ek moet sê dat ek aangenaam verras was met sy geselskap. Hy is gaaf en beskeie in die omgang (wat sowat ‘n uur geduur het).

Blykbaar het hy Jonger Skrywers grondig deurgelees en hy het uitgevra oor dinge wat in my bydrae daarin staan. Ook het hy gesê dat ons meer piëteit teenoor die ouer digters moet toon! Hy wou graag ‘n In-Memoriam-boekie hê vir homself en een vir my alma mater. Die Afrikaanse studente publiseer nou daar ‘n kwartaalblaadjie, Die Afrikaner-Ikey.

In hierdie maand se uitgawe van Suid-Afrika (wat M.C. Botha en Kie. my nou al vir jare gratis stuur) staan ‘n artikel deur prof. Van Selms oor “Die Afrikaanse Literatuur van die Slamaaiers” wat jou baie sal interesseer. Jou naam word ook daarin genoem. In jou bibliografie in hierdie week se Brandwag sien ek dat jou skoonsuster se boek verskyn het. Is dit die boek waarin sy ‘n paar van my gedigte wou gebruik? Ek sien Walter Spiethoff is ook oorlede. Hier is nog ‘n Columbia-grammofoonplaat van hom, met sy “Slaap, Pikaninie” aan die een kant en op die keersy sy musiek op Sneeu en Kinderlied, gesing deur Stephen Eyssen.

Gisteraand het ons kultuur-en-debatsvereniging weer vergader. Die debat het gegaan oor: “Kan die blank beskawing in S.A. seëvier?” Die inleiers was onderwysers (een van ‘n plaasskool), en ek was werklik verbaas om te sien hoe grondig hulle die saak bestudeer het en voorgedra het. ‘n Mens kon luister na hulle!

‘n Vriendin het toe ook Klein Swart Kindjie, dink dalk jy moet dit terug verander, ek het dit terug verander) (musiek van Kromhout sr.) pragtig gesing. Mooi is ook die musiek van Kromhout op O, Ken Jy die Gebed (uit die In Memoriam-boekie). Hy het dit verlede week gestuur.

Dit reën hier lieflik vanaand en die weerlig is kwaai na die westekant – dus hoop ek dat jou mielies ook lafenis kry.

Nou ja, ou broer, ek moet nou “so saggies aan na bed toe gaan”.

Die beste vir jou en familie.

Jou toegeneë vriend

A.D.K.

Senekal
1 Nov. 1953

Amice

Jy sal jou herinner dat ek jou in my brief van die 11de laaslede daar op gewys het hoe noodlottig dit vir albei kan word as een digter die ander kritiseer. Kyk nou vir Merwe Scholtz en S.J. Pretorius in die jongste Huisgenoot. Miskien moes Pretorius ook maar geswyg het – maar, aksie verwek reaksie.

Het jy in The Star van die 20ste laaslede die gedig op die hoofartikelbladsy gelees oor “Modern Poets in a Pickel”? Dit was regtig goed.

Die geílustreerde artikel van Smith oor Libricellae in Die Brandwag het ek baie geniet. Maar dit lyk of ek in my pasoppens sal moet bly as jy weer hier besoek aflê. Volgens Smith huiwer jy glad nie om ‘n boek of twee in jou binnebaadjiesak weg te smokkel nie! Veral as jy so ‘n seldsame boek sien soos Jonkheer dr. C.G.S. Sandberg se Twintig Jaren onder Krugers Boeren in Voor- en Tegenspoed. (Dit is in 1943 in Nederland gepubliseer. Die uitgewer word nêrens vermeld nie.)

My broer B.B. skrywe dat hy die lyksrede in die Groote Kerk van Kaapstad moes hou van ons kleinneef Sport Pienaar, en ook in Engels moes praat ter wille van Sport se baie Engelssprekende vriende. Sy pa, vir lange jare predikant van Uitenhage, en moderator van die Kaapse Kerk, was ‘n neef van my ma. Maar ek dink ou Sport het nie baie in die Kerk gekom nie, in later jare. Seker net soos ek. ‘n overdose gehad in sy jongelingsjare. Ons ouers het ons bv. na al vyf Nagmaalsdienste laat gaan!

Ek bly maar besig; moes verlede week twee keer na Bethlehem vir moordsake in die rondgaande hof. Môre moet ek vir ‘n dergelike saak na Marqueard (voorlopige verhoor). Gister, Saterdagmiddag, moes ek die distrik platry vir siektes, seker 140 myl. En so gaan dit maar byna elke dag.

Die beste vir jou en familie.

Van jou vriend

A.D.K.

Senekal
10 Feb. 1954

Amice

Hartlik dank vir julle Kers- en Nuwejaarswense op Jeffreybaai ontvang.

Vanoggend het ek aan Von Moltke ‘n paar letterkundige artikels uit Elseviers Weekblad gepos en hom gevra om hulle né aan jou te stuur. C.M. van den Heever sal ongetwyfeld ook daarin geinteresseerd wees.

Maar ter sake: Ingesluit die manuskrip van ‘n kinderverhaal, Avonture in Sprokiesland in twee dele, deur Tryna Visser. Sy is ‘n dogter van ons oud-L.V. wyle Willoughby Visser, en ek meen sy was ‘n sekretaresse van Gideon Roos. Sy wil my opinie hê oor hierdie verhaal in verse wat, soos jy sien, vlot rym en lekker lees. Ek het haar gesê ek is geen kritikus nie, maar sal jou vra om jou opinie te gee. Sal jy dit asseblief doen? Span jou wederhelf en kinders ook maar in.

Ons oudste dogtertjie, Ellen, tans in standerd 4, het dit eenstryk deurglees en baie geniet en soms selfs geskaterlag. Laat Sarel Marais dit ook maar sien en vra hom of hy gewillig sal wees om dit te publiseer (liefs met illustrasies) en op watter voorwaardes. Die ”konsepsie” is goed en iets besonders in Afrikaans. Verplaas jouself nou maar in die kindersiel, en geniet van al die raak gesegdes en kwinkslae! So ‘n boekie sal die kinderhart steel.

Nou ja, ou broer, ek moet bed toe.

Toegeneë, jou vriend

A.D.K.

Senekal
21 Jun. 1954

Amice

Die bedoeling met die paar Hollandse uitknipsels wat ek jou onlangs gepos het, was dat jy hulle maar moes hou. Sal ek hulle terugstuur? Miskien is jou broer Gawie daarin geïnteresseer.

‘n Paar dae gelede het ek ‘n prageksemplaar ontvang van Lied van die Land (1954), ‘n bloemlesing saamgestel deur Dirk Opperman, ten behoewe van De Bussy (H.A.U.M.) by geleentheid (meen ek) van hulle 60-jarige bestaan. Dis nogal interessant om te sien waarop Dirk se keuse hierdie keer geval het. Van my het hy Aandmymering gekies, en verder, van die ou garde, “Die Vlakte”, “Oktobermaand”, Winternag”, ens. Ek meen amper dat hy in sy voorwoord sê dat Wassenaar in sy “See-sonette” die eerste Afrikaner was wat die see besing het. Wat dan van oom D.F. se “Die see is vol ewigheid”, wat werklik baie mooi is? Van S.J. Pretorius het hy opgeneem die grappige en rake “Treinreis deur Griekwaland-Wes”. Jy moet die boekie maar kry! Ook van die bruin digters se werk en ‘n paar oud-Hollandse verse staan daarin.

Gesproke van poësie – in The Star is in die laaste tyd ‘n hele diskussie oor wie die 12 beste Engelse digters is of was. Burns is een keuse van byna almal en nou kom die Skotte en protester dat hy nie ‘n Engelse nie maar ‘n Skotse digter was. Sommige kies tot vir Ezra Pound! Jy sal onthou wat Simeon Stylitis oor hom te sê gehad het. My broer B.B. het my nou so ‘n artikeltjie van Simeon gestuur wat ek insluit en wat jy my by geleentheid kan terugstuur.

“Poetic Licence” skryf in The Star van 15 deser in verband met die polemiek: “I do think that each person has his of her individual taste in poetry. One might as well try to compare a Degas with a Renoir or a Chopin nocture with a Bach fugue. All are beautiful gifts given to us to treasure by gifted poets, composers and artists, and surely none of them would have us compare his work with that of another. I think that they would be satisfied to know that they have left behind them a pricelsss heritage.” Juistement – so voel ek ook oor die saak.

Hoe graag ek ook wil, ek glo nie dat ek die Akademie-vergadering as. maand in Bloemfontein sal kan bywoon nie. Waarskynlik moet ek aftree as distriksgeneesheer hier, gesien my ouderdom in Oktober. En nou moet ek maar verdien wat ek kan, vir die neseier van die oudag. Afgetrede distriksgeneeshere kry ook geen pensioen nie – dis ‘n deeltydse baan, maar in werklikheid baie meer voltyds as die van parlementslede, wat die voorreg het om wette te maak tot hulle eie voordeel!!

En dan is daar nog ‘n ander beswaar; kom ek by ‘n vergadering van taal- en kunsgeleerdes, dan sien ek hoe min ek weet en wens dat ek by die medici is, en vice versa! Dis ‘n nare, hopelose gevoel – jy is geneig om in ‘n inverioriteitskompleks te verval! My ou vriend Theo Wassenaar is gelukkiger en bekwamer – hy voel hom seker tuis by albei groepe.

Die beste, en groete tuis,

Van jou vriend

A.D.K.

Senekal
19 Des. 1955

Amice

Ek sien C.M. van den Heever is terug en hy het gewys op die groot moontlike mark vir ons boeke in Holland en Vlaandere. Toe ek teruggekom het uit Holland in Desember 1919, is ek gevra om op Dingaansdag te praat op Humansdorp en toe het ek o.a. op hierdie moontlikheid gewys. Oorlede min. Charles Malan (hoofspreker die dag) het my bedank vir die gedagte en sou dit aan die Nasionale Pers meedeel.

Het jy die polemiek in The Star gevolg van Joh. Meintjies en Laurens van der Post oor die sg. onsimpatieke houding wat Afrikaanse skrywers aanneem teenoor die swart- en bruinmense? Meintjies (en ek meen ook prof. Haarhoff) het hom deeglik geantwoord en Van der Post se slot-terugskoot was flou.

As jy weer by Libricellae kom, soek tog Die Huisgenoot van September 1916 op. Die kinders het dit uit my rak gehaal en amper verlore laat gaan. Daar staan interessante dinge in: ‘n lewenskets van Jan Celliers; ‘n artikel van hom oor die opbloei van ‘n Suid-Afrikaanse letterkunde en ‘n mooi geïllustreerde artikel oor Wenning. Verder E.C. Pienaar oor die sportprestasies (roei) van Afrikaase student in Holland; drie van my gedigte (oorgeneem uit die blad Minerva); en ‘n kiekie van die beroemde wingerdstok op Graaff-Reinet, deur my broer B.B. geneem.

Geukkige Kersfees en Nuwejaar vir julle. Kom julle nie kuier nie?

As steeds jou vriend

A.D.K.

Senekal
17 Mei 1959

Amice

Volgens belofte nog “het een en ander”. Dit was aangeneem om oor ons nuusdiens te hoor dat die Akademie Erepennings aan Lauwerys en Hullebroeck gaan gee. Maar sover ek weet, was lg. nooit ‘n professor nie – altans hy was nêrens as sodanig bekend nie. Ek het via Lauwerys ook die nuus per brief aan Hullebroeck gestuur op die 13de, en ek is bly dat jou en my propaganda uiteindelik beloon is.

Nou wil ek jou hulp weer inroep. Sal dit nie ‘n mooi gebaar wees nie indien die Akademie ons ambassadeur in Brussel vra om die plegtigheid van oorhandiging waar te neem? Of het die Akademie ‘n ander plan? Laat ons in elk geval nader staan aan dr. Du Bisson met my voorstel. Die Vlaamse pers ens. kan dan uitgenooi word na die funksie om publisiteit daaraan te verleen. Ek neem die geraamde foto’s van Lauwerys en Hullebroeck saam na Stellenbosch vir die Akademie se tentoonstelling by sy 50-jarige bestaan en ook ‘n ms.-toonsetting van Hullebroeck, nl. “Die Sterretjie”, woorde van Leipoldt. Ook die “houtboek” wat die Humansdorpers aan ons geskenk het by die fees oor die Wonder van Afrikaans op 1 Mei, waar broer Ben en ek opgetree het. So iets sal jou hart steel.

Hiermee die program van die Humansdorpers by die aandvergadering. Ongelukkig het ek nie meer kopieë van die skool se program in die oggend nie. Die Twee Boodskappers is baie mooi voorgedra deur ‘n spreekkoor van dames en here. In ‘n aparte koevert gaan ook die Humansdorpse Re Echo met Gerryts se ophemeling – ofskoon ek aan die sekretaris vooraf geskryf het dat ons nie “gehuldig” wil word nie, maar sal kom om saam met ons ou kontrei fees te vier. Ek hoop hulle publiseer ook ds. Nel se introduksie van broer Ben, want dit sal jy as geskiedskrywer van die Bybelvertaling graag wil lees. Van ons toesprake het daar geen volledige verslae verskyn nie.

Onthou jy nog wat prof. Thom oor dr. D.F. Malan geskryf het in Die Huisgenoot? Nou ja, by my inleiding het ek aangehaal wat dr. Malan vir hom gesê het in antwoord op sy vraag “Wat beskou u as u grootste bydrae en verdienste ten bate van S.A.?” Die antwoord was ook die houding van my broer en my wat ons gedoen het, was uit liefde vir die saak. Dit was vir ons ook ‘n voorreg. Ek het in hoofsaak oor enkele aspekte van die poësie gepraat – definisie van poësie; die mag van die digkuns; ritme; oordryf die digter?, ens.

Lees tog die hoofartikel in die April-uitgawe van die Nederlandse Post oor “Die Wonder van Afrikaans”. Baie goed. Ek het dit deurgestuur aan die Nieuwe Rotterdamsche Courant.

En het jy onlangs die briewe van dr. Malan in Die Huisgenoot gelees wat hy as student in Utrecht circa 1904 aan A.A. Humme van die N.R.C. geskryf het? In my plakboek het ek nog heelwat briewe van Humme. Hy was destyds redakteur van die “Kerknieuws” en “Zuid-Afika”.

As julle ooit op Jeffreysbaai kom, gaan besoek dan mej. Kritzinger se skulpversameling. Dit is fantasties en bevat oor die 600 soorte net van J’baai se strand!

Nou ja, tot soverre.

Heilwense ook tuis.

Jou vriend A.D.K.

Senekal
27 Aug. 1959

Amice

Net so ‘n geselsie! Maar vooraf – hoe gaan dit nou met jou broer Gawie, met jou skoonvader en met mevrou? Jy is seker baie besig, vandaar geen nuus.

Onlangs het mnr. A.K. Volsteedt, prinsipaal van die Hoërskool Viljoenskroon, ander skrywers en my gevra om bydraes vir sy skool se feesblad i.v.m. “Die Wonder van Afrikaans”. Dr. E.G. Jansen en hoofregter Steyn (‘n oudleerling) het reeds bygedra. Ek het hom spesiaal versoek om aan jou ook ‘n present-eksemplaar te stuur vir jou versameling.

Het jy Lindenberg se resensie van Die Halwe God, geskryf deur Saul Erasmus Smit (Dagbreek-Boekhandel, Johannesburg), gelees? Dit was in verlede week se Huisgenoot. Hy is nogal kras (miskien goed ook) en deel jou opinie oor die bundel. Is die skrywer nie maar een van die Dertigers nie?

In The Star van ‘n paar dae gelede staan ‘n uitstekende brief van Elisabeth Eybers waarin sy opkom vir die tweetaligheid van die Helpmekaar-meisies. Veral haar twee oudste dogters, sê sy, is Engels volkome magtig.

The Star van gister meld ook dat min. Eric Louw op 2 September die Erepennings in Brussel aan Lauwerys en Hullebroeck gaan oorhandig. Lauwerys skryf aan my dat die Vlaamse pers, radio en beeldradio aanwesig sal wees by die plegtigheid. Maar hy dink die Belgiese minister van onderwys sal ‘n verteenwoordiger stuur, want hy verstaan glo nie ‘n woord Nederlands nie. Die Belgiese konsul-generaal, wat ná my die woord gevoer het op die Akademie se byeenkoms te Stellenbosch, is ‘n oud-leerling van Lauwerys.

Terloops, het jy op Sondagmiddag die 16de deser ingeluister na Olivier Burgers se radioprogam oor skrywer hiervan? Hy het goed voorgedra, maar die dame was nie “briljant” nie.

Die Mönnigs en ons het weer heel toevallig in dieselfde hotel te lande gekom op die terugreis van Stellenbosch. Sy het my herinner aan ‘n parodie op Muskietejag wat sy destyds as student in Amsterdam aan my gestuur het (nogal in goeie Afrikaans), en wou ‘n kopie hê. Ek het nog so ‘n parodie deur ‘n Hollandse meisie. Altwee gee die muskiet se standpunt en verweer! Amper pleit hulle soos Schweitzer vir eerbied vir die lewe.

Nou ja, alles van die beste en beterskap toegewens vir jou broer en familielede,

t.t. A.D.K.

Senekal
2 Feb. 1961

Amice

Hiermee verskeie persberigte, vanoggend van Lauwerys ontvang, oor die opvoering van De Honden in Vlaandere. Hier en daar het ek iet onderstreep. Die Vaderland van die 30ste laaslede met die artikel “Belge maak sterk beswaar teen De Honden” het ek aan hom per lugpos gestuur, in opvolging van ‘n brief van my waarin ek hom vertel het dat jy besig is om iets op te stel vir Die Vaderland, danksy die gegewens wat hy my gestuur het. Ek sluit ook sy jongste brief in.

Soos jy sien in Lauwerys se brief aan my vind hy dit vreem dat ons pers geen uitwisselingsakkoord het nie met Vlaamse koerante. Mens sou sê dat Piet Meiring al iets in hierdie rigting kon ngedoen het! In verskeie Europese lande, soos Holland, het ons tog inligtingsbeamptes.

Nader tog asb. Die Vaderland en Die Transvaler om’n ruilhandel te dryf met goedgesinde koerante daar. Hulle sal die adres van Laaste Nieuws (sirkulasie van 300 000) by die Belgiese gesant kan kry. Die adres van De Gazet van Antwerpen in 46-48 Nationale Straat, Antwerpen. De Standaard van Brussel was vroeër (ek weet nie nou nie), die lyfblad van Frans van Cauwelaert, min of meer “Sap” in die Belgiese politieke opset. Tog is De Standaard ‘n flinke “Vlaamse kultuur”-publikasie.

Die beste vir julle almal.

t.t. A.D.K.

Emmerentia
Johannesburg
5 Maart 1961

Geagte dr. Keet

Baie dankie vir u aangename brief en die groot klomp uitknipsels en koerante. Gisteraand het ek met hulle deurgebring, en heerlik gelees; sommige gaan ek in die seminaar-kamer opplak, en ander gee ek vir Die Vaderland. Elisabeth Eybers het ons gister telefonies meegedeel dat sy en Albert met ‘n egskeiding besig is; sy kom vanmiddag kuier en sal dan meer besonderhede gee. Dit is vir ons ‘n geweldige skok, want niemand het so iets vermoed nie. Ons ken hulle al 30 jaar.

Vandag wil ek luister na u gedig Moeder om 12nm. Ek sou baie graag ‘n lys van die komponiste wil hê; dit is belangrik om die populariteit van u gedigte te bewys, en vir die studente sal dit ‘n openbaring wees.

Dit is moontlik dat Nestrus en ek Vrydagmiddag deurgaan na “Libri”. As dit nie te laat is nie, kom ons by u ‘n oomblikkie aan.

Met vriendelike groete

t.t. P.J. Nienaber

Senekal
8 Okt. 1962

Amice

Ek hoop jy het my vorige brief (met een van Lauwerys en ‘n paar uitknipsels) ontvang, en dat daar een van jou op weg is hierheen, met die uitknipsels Van het poetisch front. Sien ingeslote brief van Lauwerys, wat vir sigself spreek. Ook graag terug, asseblief.

Eergistermiddag het ek weer bestee aan ‘n pak koerant van hom. Die “Taaltuine” wat hy gestuur het, het ek sorgvuldig uitgeknip vir jou en hulle gaan ook met hierdie pos, saam met ‘n paar bladsye van De Standaard. Die artikel oor Leipoldt in die uitgawe van 16 Junie 1962 sal vir jou van belang wees.

Ellen skryf dat Hanko haar uitgenooi het na sy meerderjarigheidsfees op die dertiende. Ek self verjaar die dag na Hano – saam met De Valera van Ierland en genl. Eisenhower. Helaas is daar geen uitnodigings van hulle nie om saam te kom feesvier!

Het jy al die bundels van Pieter Venter en Gilliland gelees en hoe vind jy hulle?

Stuur asseblief die uitknipsels terug waaroor Lauwerys skryf in sy brief, sodat ek hom kan antwoord.

Die beste van huis tot huis.

Van jou vriend

A.D.K.

Senekal
21 Sep. 1965

Amice

Met hierdie pos gaan weer ‘n klompie Standaarde en “Taaltuine” na jou. Ek sluit ook ‘n brief van Lauwerys in. Hy het onlangs ‘n wenk gegee dat ons inligtingsdepartement vir Wout Wellinck moet uitnooi na ons land, en dr. G.D. Scholtz van Die Transvaler het op my aanbeveling die departement genader. Soos jy weet, is Wellinck ‘n rubriekskrywer van De Post in België en in een van die jongste nommers (wat ek vannaand vir dr. Scholtz pos) publiseer hy weer ‘n besonder goeie brief van ene mnr. Kok van Johannesburg, wat vir ons saak waardevol is. Wellinck beaam alles in die brief.

Die mense luister graag na jou radiopraatjies. Vir my is daardie tyd douvoordag, want dan het ek my beauty sleep. Vanmiddag was hier, ‘n blinde klavierstemmer van Bloemfontein wat sê hy het nog nie een gemis nie!

Kry jy Die Burger? Jan Bouws stuur aan my ‘n artikel van hom in die uitgawe van die 7de deser: “Musiek van Cornelis Dopper”. Dis glo vir kinderkore getoonset deur Dopper 35 jaar gelede, en Bouws het destyds in Die Huisgenoot daaroor geskryf. Dopper is kort daarna oorlede en die musiek het soek geraak. Nou het Bouws dit weer opgespoor in Den Haag en hy vra toestemming om hulle te laat druk. Die tekste is “Waghondjie” van Jan Celliers, en Winter, Sneeu, Kinderlied en Klaas Vakie van ondertetekende. Hulle is indertyd glo “met groot welslae”in die Concertgebouw uitgevoer onder die stok van Den Hertog.

Rosa werk kliphard by The Friend in Bloemfontein, wees ‘n skaarste aan personeel. Sy het ‘n mooi honorarium ontvang van die Tydskrif vir Letterkunde en is in haar noppies! O ja, ek het vir Rosa ‘n gediggie in Engels geskryf, getiteld Some Fashions. Sy wil dit in die somer in daardie koerant publiseer – as komende van a friend.

Ons beste wense aan julle.

A.D.K.