iii - Verspotte Gediggies

iii - Verspotte Gediggies #

Oorspronklik #

Teks #

Verspotte Gediggies
vir
Verspotte Kinders
deur
A.D. Keet

Illustrasies deur B. Laubscher

Sê nou!

Sê nou ek lyk soos 'n brommer
En sê nou ek voel maar v-r-o-t.
En sê nou ek speel maar sommer
En sênou ek word verspot!

Sê nou my oë kyk soontoe
En sê nou my ore staan skeef.
En sê nou my neus wys boontoe
En sê nou ek kan darem leef.

Sê nou die aarde is bol-rond
En sê nou die klippers val af.
En sê nou ek staan met 'n vol mond
En sê nou ek praat nog meer kaf!

Die Rooiversbul
Is 'n wonderlike dier,
Want hy lyk soos die vul
Van 'n bosveld tier,
En sy hare is gekrul
Soos die van 'n Ier.

"Hou jou hand voor jou mond",
Sê die honder vir die hond,
Sê die padda vir die aap,
"As jy gaap!"

Ek wens ek was 'n tarentaal,
Dan vlieg ek tot by Andrieskraal,
En ek hardloop dwars oof Bidolfsberg - 
Net om tant Sarie te vererg

Ek wens ek was ’n groot pampoen Dan weet ek goed wat ek sou doen Ek sou rol van die Vrystaat tot in die see Net on die haaie ’n skrik te gee

Ek wens ek was ’n krokodil Dan gee ek net een harde gil En ek spring oor ’n groot Basoetoestat - Net om die kleingoed te sien spat!"


Daar gaan 'n koei,
'n Vyf-bene koei,
Sy het nie naam nie,
Sy moet haar naam nog kry!
Ag koeitjie swaai,
Stadig draai,
Want jy is glad nie fraai!

Hier kiep-kiep
Daar kiep-kiep,
Woerts, in die hoekie.

O my liewe, O my liewe,

Daar val my broekie!


Bobbejaan op die paal,
Wat is dit vir 'n kabaal
Daarbo op jou verhoogde status?
Is die ketting om jou nek
Dan so stram getrek
Dat jy skree asof jy buite raad is?

Bobbejaan op die paal, Foei, ek skaam my vir jou taal - Jy praat asof matroos jou maat is! En jy gaan daarboo te keer, Net woos vreeslik sware weer, Wat op die aarde losgelaat is.

Bobbejaan op die paal, Wag, ek sal ’n leer gaan haal - As ek maar net daartoe in staat is! En die ketting laat ek skiet Wat jou wurg, so puur-verniet, Dit kos jou niks, ek doen dit gratis!


In die jaar 1910
Het ek 'n vreeslike ding gesien
Dit was nie 'n spook nie
Wat boer-tabak rook nie,
En dit was ook nie ou Katrien

Maar dit was ’n gedierte Wat lyk soos ’n mier, te Perd op ’n stywe galop Ek skeur to die wêreld Met my voorkop bep&ecirclpereld, En skree net Pas op! pas op!!


Trippe-trappe-trone,
Varkies hou van bone,
Varkies hou van melk een vlees
Maar van boontjies nog die mees
Trippe-trappe-trone.

Trippe-trappe-trone, Boer sit sonder bone, Boer sit sy koerant en lees, En die varkies vier maar fees - In die suikerbone

Trippe-trappe-trone, Afrikaner sone, Julle wat wil boere wees Pas op, of dit is klaar met Kees - Trippe-trappe-trone.


Kom ons gaan bokke skiet,
Ekke en jy,
Daar by ou Tante Griet
Daar by die vlei

Ek neem my pyl en boog, Jy jou geweer Ek met my skele oog Kan maar net keer.

So nou’s ons na genoeg, Mik nou maar goed. Dan s&ecircl; ons môre vroeg: Bok-skiet vra moed!

Skiet nou, mapstieks, man, Wat beef jy so? … En toe val arme Jan Onderstebo!!!


Toe ek nog jonk was, was ek wreed,
Toe pak en 'n beeldskoon meisie beet,
En ek gee haar 'n lekkere, heerlike soen - 
Ek sal dit nooit weer doen!

Toe ek nog jonk was, was ek wreed, Die diere het almal daarvan geweet! Ek het vis gaan vang by Oom Gert Viljoen, En was was aan die hoek? ’n Groot Kalkoen! Ek sal dit nooit weer doen!


Die maan is 'n kwaai ou kêrel,
Sy gesig is maar altyd stram.
Al loop jy nou in die Pêrel
Al staan jy in Amsterdam.

Nog nooit het die ou gelag nie
Nog nooit het die ou "ge-smile"
En hy sê ook nooit vir mens nag nie
Presies soos die "bull" van oom Daiel!

As ek my nie vergis
Dan het 'n vis
Twee vinne:
Een buite,
En een binne!

As ek my nie bedrieg
Dan het 'n vlieg
TWee pote
Een kleine 
En een g-r-o-t-e!

Kindertaal
"Môre het ek daar gewees
Gister sal ek gaan" - 
En die mooiste is dat jy wat lees
Hierdie taal verstaan!

Laaste nag het ek gedroom
My Ouma se tante is my niggie se oom
En die wêreld loop oor van jellie en room
O dit was tog só verspot!

Maar toe ek my Boetie sê, roep hy uit "Rot!
Só praat geen mens nie, só praat 'n sot!"

My magie is so eina,
Ek gaan my Mammie sê,
Ek huil al amper-byna
Whê, whê, whê, Whê!

Daar gaan Mrs So-en-So
	Wil jy glo
Sy val die trap af tot
	Daarbo!

Ek hou van 'n vrou wat 'n slag kan slaan
Ek hou van 'n man wat 'n pak kan staan.
Maar 'n mens wat skeel kyk,
Sê Oom Danie van Dyk,
Is 'n ding wat ek glad nie kan staan!

"Aits, hoe swaai
Sy om die draai!
Marietjie Steyn,
Die noointjie fyn,
Is skoon verdwyn!

Maar wat, wie sê
Net het-tê-tê,
Dan is ek daar
By haar,
Sowaar!"

Ag siestog, foei, hoe liefies,
Hy stuur my nóu al briefies
En mooie madeliefies - 
Dis sulke hartediefies!

Ek kyk hoe lief en soet-
Hy stuur ook lekkergoed!

En raai wat stuur hy saam?
Sy foto in 'n raam!

Nou word ek regtig skaam!

Kom ek wed jou, dié wat jy
Mooi vind is nie mooi vir my!

Haai, nee, raai, arrie!
Nou word ek vreeslik verspot!
En ek en ou Janewarie
Lag ons byna kapot!

Bimbamboela

"Bimbamboela,
Amanoela,
Habiboela,
Ek is 'n Soela!

Ek ek voela
Vreeslik koela
Teenoor die hele boela
Van jull-a!!!

Toe sê Boela,
Bimbamboela,
Amanoela,
Habiboela,
E we koela,
"Wat bedoela 
Jy, lelike Soela?
Hou jou smoela!
Of ons woela
Jou net-nou met 'n stoela
Op jou koppa!!!"

Hulle sê daar woon in Hispan-jos
'n Vreeslike kwaai ou man-jos - 
Ek weet nie meer wat's sy van-jos
Maar hy drink hom dronk uit 'n kan-jos.

En hy lyk presies op 'n voor-os,
En hy het nou maar net een oor-jos
Die ander het hy verloor-mos,
Toe hy 'n stier wou vermoor-jos.

Hy het die ou stier geslaat-jos,
En gesteek met 'n spies en versmaad mos
En toe word die dier baie kwaad-jos
En hap mooi sy oor van sy kop-jos.

In die land van Marmela-de,
Woon 'n seker Jan van Stade,
En hy gee so baie rade - 
Hy't selfs raad teen jeremiade.

In die land van Marmela-de,
Toegespan met jakkalsdrade,
Leef hul net van sjokolade,
Help-my druppels en genade.

In die land van Marmela-de,
Ly die mense baie skade - 
Dis deur al die goeie rade
Van Oom Jannie en sy gade!

Mnr Dinges het my gedinges
Dat hy op Dinges na Dinges wou gaan
Maar ek het hom t'ruggedinges
Dat ek van sy dinges geen dinges verstaan.

Ek hoop nou maar jy't gedinges
Wat ou Mnr Dinges my wou vertel,
Maar as jy dit nie kon dinges,
Dan moet jy maar sito 'n dokter bestel!

Vrouens menere
Dames en here,
Luister, ek moet praat
Net oor diere
Plante en miere
Gee my bietjie raad!

Dames en here
Likkewaan-vere
Is verskriklik skaars

En pampoene 
Dra geen skoene 
Is dit nie iets raars?

Ek is moeg en sat van sigare
En ek smag na 'n sigaret
Sigare en perde hare
Smaak amper dieselfde - ek wed!

Die dokter het pyp en sigare
Vir my nou totaal belet.
Hy sê vir 'n man van my jare
Kom niks by 'n sigaret.

Dis jammer daar's so veel gevare
Vir die wat van jongs-af al rook
Onderwysers en barbare
Se bloed kan so maklik gaan kook!!

Ek ken 'n klein ou seuntjie
Wat elke môre sê:
"Ek wil nou tussen Pappie
En Mammie in kom lê."

Die seuntjie se naam is Boetie,
Of liewerster, A.D.K. - 
En as julle nie wil glo nie,
Kan julle hom maar gaan vra!

Myne here van kommissie,
So is no die posiesie,
Gaan roep nou maar die poliesie,
Ek's klaar met my ammuniesie.


Klinge-klonge-klange,
Dinge-donge-dange,
Netnou speel Mnr De Lange!
Met 'n blossie op sy wange,
Weer die psalms en gesange
Netnou sal sy Hoog-Eerwaarde
Vir ons preek oor hemel en aarde

Tinge-tonge-tange,
Pinge-ponge-pange,
Arme Mnr De Lange
Kry pampoentjies op sy wange
Onder die gebed en sange
Toe hy dink aan ons eksamen
En toe sê die Dominee: Amen!

"Eilasie,
Wat 'n konsternasie!"
Sê Boet Fasie
Aan neef Klasie,
"Die ganse nasie
Het die bibberasie
Van die inflamasie!"

Die lug is bewolk,
En die strate is stil,
Daar's niks wat my steur nie - 
Dis stil, dis stil.
Maar hier kom Ardoons,
En hy kyk oor sy bril,
En hy sê ewe droog-weg:
"Dit kan reën, as dit wil!"

Van Putsonderwater tot Soebatsfontein
Is dit ver om te ry as die son op jou skyn
Maar die verste is nog van Grootrivier
Na die land wat hul noem,
	Land van die Bier!

"Die tee is nie so lekker nie,
Die koffie proe maar swak - 
Of my naam is nie Bekker nie,
Of ek praat pure twak.
Jou koffie is vol tjiekorie
Jou tee is gaar gebak!"

"Toe maar sê Mrs Hiccory,
Ek maak wat WILD is MAK!"

Deuntjie
Toe sê ek vier Meraai-e:
"Meraai-e, Meraai-e,
Wat van jy nou weer an?
Die honders loop onder die kraai-e
En die koffie loop uit die kan!
Meraai-e, Meraai-e
Wat vang jy nou weer aan?"

Toe sê ek vir Meraai-e:
"Meraai-e, Meraai-e,
Wat doen jy nou al weer?
Dis waar, jy vererg my baai-e
Gaan gou-gou die hoenders keer.
Meraai-e, Meraai-e,
Wat doen jy nou al weer?

Oom Kalie en Tant Malie,
Neef Alie en Nig Salie,
Boet Galie en Sus Ralie, 
En Griet, die tjankbalie - 
Draai almal rondomtalie!

Dáár kom Piet Joebert
Met sy Chevroly!
Ek hoor hom al van vér - 
Dis hy, dis hy, dis hy!!

Neef Flippie van Rooye
Ry met sy ooie
Dwars deur ou Senekal.
Hy't glad nie bespeur nie
Hoe oop staan sy deur nie,
En hoeveel het uitgeval!!

Oom Cornelis Rautenbach
Laat my somtyds vreeslik lag.
Sit hy in sy Studebaker,
Lyk hy sommer tien keer ryker.

Dáár gaan Dr Keet
Met sy Hupmobiel - 
Ek wonder of hy weet
Hoe pap's sy agterwiel!!!