v - Vertwyfeling
#
Snags op Straat
#
“Wie is jy, wat so laat
Rondloop op die straat?”
“Ek is 'n man
Wat ten einde raad,
Drank gebruik het
In owermaat.”
“Ek is 'n vrou
Wat iedereen haat —
Ek sien in jou oë
Hoe jy my versmaad.”
“Ek is 'n kind
Deur my moeder verlaat,
Dáárom loop ek
So laat op die straat ... ”
“Ek is 'n hond,
En ek het verdwaal —
Is jy nuuskierig,
Of kom jy my haal?”
O, Digter wat Dwaal
#
O, digter wat dwaal
Op die aarde rond,
Waar is die woorde
Wat kom uit jou mond?
O, digter wat swerf
Deur die ganse heelal,
Waar's die akkoorde
Wat jou't ontval?
“Hulle skuil in my hart
En word teruggehou
Deur kommer en smart
En, liefste, deur jou.”
Siel van My Siel
#
Nooit sal 'n woord van hard verwyt
Ooit van my lippe kom,
A1 moet ek droewe dae slyt
Tot in my ouderdom.
Nooit sal ek jou verag of vloek,
Al het jy my laat val —
Siel van my siel, ek sal jou soek
Oweral!
Die Leerling-skepper
#
'n Leerling-skepper van die Heer
Het jy gemaak so seer, so seer ...
Hy was 'n skepper hoog geëëer
Maar sing nou, sing nou nimmermeer.
Hy kon die Heer se woordeskat
In maat en ritme samevat.
En soos 'n outyds troebadoer
Wat al die mense diep ontroer,
Kon hy ook sing 'n pragtig lied —
Maar nou is dit net puur verniet.
Nooit sal die leerling-skepper weer
Sing soos in die dae van weleer.
Nooit sal 'n snik van stil verdriet
Wyk uit die wese van sy lied.
Een Aand
#
Een aand — dit was by volle maan —
Het ek na Gods heelal gegaan.
En ek het op 'n rand gaan sit,
Om daar Sy skepping te aanbid.
En in my nietig nietigheid
Het ek gesien Sy majesteit.
Ek het gewaar hoe klein ek is,
Hoe groot is Sy geheimenis.
Ek het aanskou sy wonderwerk —
Gods skepping is één grote Kerk,
Één pragtige psalm, één soet gesang —
Wat jou na Liefde laat verlang ...
Toe het ek soetjies opgestaan,
En na my Liewe Heer gegaan.
Berou
#
Dit is laat in die nag
En ek wag, en ek wag —
Vir wie wag ek nou?
Vir jou, vir jou.
Dit is laat in die nag
En ek hoor iemand lag —
Maar in my en in jou
Is net berou.
O, kon ek maar lag
So diep in die nag
En vergeet my berou —
Tesame met jou.
Aan die Kruis
#
O, Heer, wat nog kan liefhê aan die Kruis,
Ten spyt van smaad en laster en verraad,
Leer my die les dat in U Vaderhuis
Daar plek is net vir liefde, nie vir haat.
O, Heer, leer my die les dat trots 'n Judassoen
Ek nog moet liefhê, liefhê dag en nag;
En wat vir onreg mense ook mag doen,
Te antwoord net met liefde, en te wag.
Sal Ek Nou Toelaat
#
Sal ek my haat nou toelaat
Om selfsugtig vir myself
Te hou die ryke heiligdom
Waarin ek diep kan delf?