ii - Gedigte Uit Bundel

ii - Gedigte uit Bundel #

1. AAN MY MOEDER #

(vanuit Amsterdam)

Sneeu #

Sneeu, sneeu, lieflike sneeu
  Daal op die aarde neer;
    Dit val en dit swewe,
    Dit sterf en dit lewe —
O, kyk tog hoe kóm dit al weer!

Sneeu, sneeu, heerlike sneeu —
  Moeder, kom kyk tog hoe fraai!
    Miljoene klein vlokkies
    In stukkies en brokkies
Word wyd oor die wêreld gesaai!

Lieflik en rein en wit is die sneeu,
  Moeder, dit val en dit sweef
    In brokkies en stukkies
    Met stote en rukkies —
Presies of die hele lug leef!

Winter #

    Sonnetjie, skyn!
    Sonnetjie, skyn!
O, skyn by my venster in.
Koud is die wind, wat daar buite waai;
Donker die wolk, wat daar bowe draai;
    Sonnetjie, kom tog in.

    Sonnetjie klein!
    Sonnetjie rein!
Steek tog jou koppie uit;
Jaag tog die wolke daar bo uitéé
Soen tog my oë, wat ween en ween,
    Reg deur my vensterruit.

    Sonnetjie fyn!
    Sonnetjie myn!
Kom tog, ek soebat jou.
Weg met die wind, wat daar buite waai;
Weg met die wolk, wat daar bowe swaai;
    Sonnetjie, kom tog gou.

Kontras #

Kersfees 1914

Wit is die wêreld,
    Wit van die sneeu;
Bokant die water
    Sweef daar 'n meeu.
Blou is die hemel,
    Nêrens 'n wolk;
Oral is vrede
    Rondom die kolk.

Spierwitte wêreld,
    Diep in jou siel
Sug jy en smag jy
    Om te verniel;
Skyn is jou vrede,
    Donker jou hart.
Jy is maar bly oor
Ander se smart!

Heimwee #

Ek verlang na die land, waar koppie en rand
  Verrys van die vlakke veld;
Waar die bossie-twyg sy kransies ryg
  Oor die graf van menige held;
Na die land daar ver, waar die skape blêr
  As hul saans na die kraal toe kom;
Waar die kokkewiet sing en die tyding bring
  Dat die dagbreek is weerom;
En die mannetjie'struis, as sy bloed opbruis,
  Met sy vlekvere staan te pronk,
'Wyl hy dreunend brom, met sy nek gekrom,
  En sy bene so rooi soos 'n vonk.
Ag, ek sug na die land, na my vaderland,
Waar die son so skitterend skyn
  O, die warme son, o, heerlike bron
Waarsonder ek steeds sal kwyn!

Maar Een Suid-Afrika #

Gee my 'n roer in my regterhand,
Gee my 'n bok wat vlug oor 'n rand —
En 'n flukse perd om hom weg te dra:
    Gee my Suid-Afrika.

Gee my 'n kamp waar bossies groei,
Gee my 'n fraai volstruis wat broei —
En 'n Boereseun wat baie wa:
    Gee my Suid-Afrika.

Gee my 'n koppie om op te staan,
Gee my die Swartland met al sy graan —
En nooit of te nimmer hoor jy my kla:
    Gee my Suid-Afrika.

Gee my 'n vlakte ruim en wyd,
Gee my die veld se oneindigheid —
En die lekker geur wat die lug daar dra:
    Gee my Suid-Afrika.

Die Lied van die Koringboer #

O, sing my die lied, sing my die lied,
  Die lied wat my hart so raak,
Van die Onderveld-boer en sy koringmied
  En die donder, wat dreun en kraak.

Vanmelewe het daar 'n boer gewoon,
  Daar vér in die Onderveld,
Sy lande het altyd sy werk beloon
  Met gerwe haas ongeteld.

Toe kom daar 'n grote droogte aan
  En sy vee vrek hot en haar.
Die maande kom en die maande gaan,
  Maar die reën bly ver van daar.

Dog skielik kom, op 'n somerdag,
  'n Grote wolkeskaar.
Hulle lyk soos 'n seilende skepemag,
  Wat reg op die aarde vaar.

Dit duur ook nie lank of die aarde word bang
  Vir die wolke, wat toef op hul weg.
Want dis man aan man, en rang op rang,
  Wat klaar staan vir die geveg.

Daar flikker op eens 'n bliksemstreep,
  Hy slaan soos 'n sweep se slag;
En hy sny uit die grond 'n grote reep —
  Die eerste skoot van die dag.

En toe begin die rammel-rumoer,
  Kanonne die gaan te keer,
Dit dreun en rol op die wolkevloer,
  Dit bulder al meer en meer.

Dit kletter en gons soos die haelkorrels spat,
  Teen die klippe klap hulle fyn.
Die stofwolke rys uit die dorre pad
  En die bliksemstrepe skyn.

En hot en haar slaan die weerlig neer —
  Dit skeur en dit kraak en dit raas.
En kort op mekaar, verskeie keer,
  In die enigste mied van die plaas ...

Toe hardloop die boer by die voordeur uit;
  Met sy voorlaaier in sy hand
Vervloek hy die bliksem, tartend en luid,
  Om sy koring wat staan in brand.

En roekeloos rig hy sy kleine roer
  Na die sware donderweer,
Dog die bliksem tref die arme boer
  En morsdood val hy neer ...

Die hael die gons; en die water giet
  Op die smeulende vuur van die koringmied ...

En dit is die lied van die koringboer
  Wat die hele jaar se gesaaie —
Sy brokkie brood, en sy vee se voer,
  Sien vergaan 't in ligte laaie.

2. OOR AMSTERDAM #

Amsterdam #

Aan mijn vriend Eduard Karsen

Ou Amsterdam is tog so mooi
Met al sy liggies uitgetooi
   In donker, donker nagte.
Dis liggies hier en liggies daar
In lange rye aanmekaar
   Wat flikker in die gragte.

En honderd duisend ogies loer
Op spieëlgladde watervloer
   Daar bowe uit die hemel.
Dis liggies hier en liggies daar
En bootjies, wat so saggies vaar
   Dat ligte golfies wemel.

Die liggies soek mekaar weer op
In water, wat teen walle klop
   Op stormagtig' nagte.
So toweragtig, lief en skoon
Is liggies, wat op walle woon
   En flonker in die gragte.

Muskietejag #

Jou vabond, wag, ek sal jou kry,
Van jou sal net 'n bloedkol bly
    Hier op my kamermure.
Deur jou vervloekte gonsery,
Deur jou gebyt en plaery
    Kon ek nie slaap vir ure.

Mag ek my voorstel, eer ons skei,
Eer jy die doodslag van my kry —
    My naam is Van der Merwe.
Muskiet, wees maar nie treurig nie,
Wees ook nie so kieskeurig nie,
    Jy moet tog ééndag sterwe.

Verwekker van malaria,
Sing maar jou laaste aria —
    Nog een minuut vir grasie.
Al1 soebat jy nou n&oacutre;g so lang,
Al1 sê jy ook: ek is nie bang,
    Nooit sien jy weer jou nasie ...

Hoe sedig sit hy, o, die kreng!
Sy kinders kan maar kranse breng,
    Nóú gaan die vabond sterwe ...
Pardoef! Dis mis! Daar gaan hy weer!
Maar dóód sal hy, sowaar, ek sweer —
    My naam is Van der Merwe!

Rook #

Vir Frans Karel te Water Naudé. “Waar rook is, moet daar ’n vuur wees.”

Rook! Wát is rook? Is dit die beeld
Van iedere verwagting, en van hoop
Wat heel die mensdom stééds met moed vervul?
Of is dit maar die spook, die vlugtige siel
Van een of ander ding, wat puur verniet,
Probeer om aan die aarde vas te klem? ...
Kyk, ek blaas 'n ronde ring wat rol
En pragtig krul reg deur my kamer heen;
Jy sê dit is so mooi — ou maat, dan het
Jy seker nooit bespeur hoe wonderskoon
Die bloedrooi vuur van ieder sigaret
Kan skitter in die skemerlig. Kyk hier ...
Het rook nou nie 'n skoner metgesel
Wat oorsaak is van al sy skoonheid nie?
Kom, steek maar nog een aan, miskien het jy
Ook nog 'n hart waarin die vuur van hoop
Jou siel verlig sodra die skemer daal.

Verlate #

Sovele vroue sien ek gaan
    Langs hel verligte strate;
Glimlaggend kyk hul almal aan,
    En tog is hul verlate.

Daar val so baie blare neer
    Op troostelose strate;
Die winde waai hul heen en weer,
    En elkeen is verlate ...

3. VAN LIEFDE #

Net Maar Gesien #

Net maar gesien het ek vir haar —
    Geen enkel woord gepraat;
Ons loop so vlak verby mekaar
    Een middag laat, op straat.

Net maar gesien een enkel blik —
    Net maar gehoor my hart;
O, God, hoe onuitsprekelik
    Is tere, diepe smart.

Net maar gesien, al soveel maal —
    Net maar gevoel hoe mooi
En rein sy is, my ideaal,
    My wonderskone nooi.

Probleem #

'n Mot vlieg vol van lewensblyheid
Vas teen 'n soeklig-toring aan,
So spog'rig asof Lot nog Vryheid
    Vir hom bestaan —
    En hy vergaan!

Die soeklig gooi sy glinsterstrale
Wyd oor 'n see van woesteny —
Verkondig skippers telkemale:
    Bly vér van my.
    Bly vér van my!

Geliefdel So't jou oog geflonker
My vaak al voor die vraag laat staan,
Of ek moet uitbly in die donker
    Of nader gaan —
    Jy trek my aan!

Ek Hou van Blou #

O, vra my nie my liefde,
    Ek het dit weggegee
Aan 'n kleine koringblommetjie
    En aan die grote see.

Ek hou van bloue blomme,
    'k Aanbid die hemelblou,
Jou oë vermy dit kón ek nie —
    Ek min hul meer dan jou!

Sonnedaal #

Die purper van purpere lugte,
    die lila van sonnedaal —
Die sterwende dag se sugte,
    Hul laat my gedagte dwaal.

Ek dink aan 'n blonde meisie,
    Ek dink aan 'n keurige brief.
En ek hoor in my siel net een wysie:
    Ek het haar, o, so lief!

In die Stilte van My Kamer #

In die stilte van my kamer
    Het ek een aand stil gesit,
En toe het ek jou klein beeldjie
    Ure lank aanbid.

Ure lank het ek gemymer
    Oor ons liefde, oor ons leed;
Oor die grenslose misterie
    Waar ons niks van weet.

Wat is liefde, wat die lewe,
    Wat is vreugde, wat is smart?
Kind, ek bly die antwoord skuldig,
    Maar ek volg my hart!

Ek Haat die Felle Daglig #

Ek haat die felle daglig,
    Verag die grote son —
Ek sou hul albei martel
    En ophang, as ek kon!

Gist'rawend in die maanskyn
    Het ek my nooi gesoen —
Vandag toe ek haar aankyk,
    Wou sy dit nie weer doen!

Ek min die sagte streling,
    Die streling van die maan —
Die daglig bring verveling,
    En maak my nooi net skaam.

Waarom Juis Ek, o, Heer? #

“Waarom word ek, o, Heer,
    Deur hom juis uitverkore?
O, God, my hart is seer —
    Waarom juis ek, o, Heer?”
“Waarom juis ek, o, Heer?
    Ek voel my so verlore.
Gee hom sy liefde weer —
    Waarom juis ek, o, Heer?”

Allerliefste #

O, sê my nooit, my allerliefste,
    Dat jy 'n ander meer bemin;
As dit so is, my allerliefste,
    Wil ek jou liefde nogmaals win.

Want sonder jou kan ek nie leef nie,
    Om jou draai heel my wêreld rond;
En wie sal nie sy lewe gee nie
    Vir haar in wie hy liefde vond?

Toe antwoord sy: “My teerbeminde,
    Ek het maar net met jou gespeel —
Jy weet tog goed, my teerbeminde,
    Dat ek jou lief en leed wil deel!”

Bekoorlik Kind #

Bekoorlik kind! Ek weet nie wat dit is
  Of hoe dit kom nie; 'k weet alléén maar dit;
Dat ek nog altyd deur jou beeld aanbid
  En steeds die tintel van jou oë mis.

Is dit die glans, waarvan ek nimmer wis
  Dat dit 'n man so aangryp, altemit?
Of is dit net bekoring? Nee daar sit
  Oneindig veel meer agter dan jy dis.

Dit is die krag, wat digters stil laat staan
  Vir al wat lief en skoon is op dees aard';
Dit is die Siel, wat so sy weë baan
  Van hart tot hart, tot twee aaneen-gepaard .
  Hul hele lewe sáme verder gaan ...
Lief kind, o, maak my lewe lewenswaard!

Wyding #

Welsalig, hy, deur Roeping uitverkore,
  Aan roeping paar sy liefde vir 'n vrou —
Een grote wyding is my lewe nou,
Ek asem met 'n doel, ek is herbore.

Geen enkel dag, geen uur gaan meer verlore,
  Geliefde, dit kom ek jou toevertrou,
En sti-eerbiedig kniel ek neer voor jou,
  My dageraad, my jubelende more!

O, vol is nou my lewe, vol van kleure,
  Een simfonie van suiwer hartetaal,
Wyd ope staan my hart, my siel se deure,
  O, wil my tempel met jou lig bestraal!

Besluit #

Kom, ek gaan weer sterk wees
  En jonk en vrolik ook.
Aanbidding gaan my werk wees,
  En verder, gaan ek spook!

Ek gaan geen enkel grief hê,
  Ek gaan geen smarte vrees.
Wat skoon is, gaan ek liefhê,
  En heerlik sal dit wees!

Noudat my weemoed weg is
  Gaan ek die wêreld in.
Of ek verkeerd of reg is,
  Dit raak my waarlik min!

En as my wêreld klein is,
  Vergeef my as ek jou
Wat lief en skoon en rein is,
  Te veel aanbid, o, Vrou!

Was ’n Jonge Digter #

Was 'n jonge digter
    Uit Suid-Afrika.
Wou g'n nooientjie hê nie —
    Ra-ra, ra-ra, ra!

Kom 'n Hollands nooientjie —
    Maar ek weet nie bra
Of ek dit mag sê nie,
    Taraboemdira!

Liefde #

Mirakelkrag, wat mense samesnoer
Met kettings sterker as die sterkste staal,
Hoe swak en hulp'loos laat jy my voel!
Swak soos 'n man wat op sy sterfibed lê,
En weet dat hy hom daarin moet berus —
Hulp'loos soos 'n pasgebore kind ...
O, ek vóél dit nou, die lewe is
'n Stroom waarop die mens alewig dryf
En wilskrag is maar ingebeelde skyn.
Hoe kragtig het ek my nie steeds gewaan,
G'n ding of ek kon my daarteen verset
Met vaste wil en regopgaande hoof.
Maar nóú is ek geboei, en of ek wil
Of nie, ek gaan my liefde tegemoet
So seker as oor soveel jaar my dood!

4. VAN DIE NATUUR #

As Saans #

As saans die son stilswygend sterf
    Daar oor die wester-rand,
Dan straal hy wondertekens uit
    Aan elke volk en land.

As saans die skemersluier sak
    In stille segetog,
Dan veg die dag sy doodstryd vóór
    Sy laaste ademtog.

As saans die donker duister daal —
    Die doodskleed van die dag —
Dan hou die kinders van die son
    Hul ligtend sterrewag.

Non Appena #

Vertaling van As Saans deur Giacomo Prampolini

Non appena in silenzio muore
    1á, oltre l'orlo di ponente,
segnali prodigiosi il sole irradia
    a ogni nuvola e paese.

Non appena il velo del crepuscolo
    cala in un quieto trionfo,
il giorno combatte l'estrema lotta
    prima di spirare.

Non appena é sceso il cupo buio
    — funebre veste del giormno —
i figli del sole montano
    la loro guardia stellare.

At Night #

Vertaling van As Saans (deur vermoedelik I.D. du Plessis)

At night the sun sinks silently
    O'er glowing western sky
And sends a host of wondrous signs
    To lands which lowly lie.

At night the veil of darkness falls
    A silent shroud of death
For then the day yields grudgingly
    Its last remaining breath.

At night the darkness settles down
    The purple call of day
Tis then the children of the sun
    Watch on their starry way.

Aandmymering #

(Op die Stoep van ’n Boereplaas)

        Dis stil...
    Geen blaartjie roer,
    En die hele werf
Rus sag in die skoot van diepe vergetelheid.
    Die dag is dood
    En lê begrawe —
        Stil.

Soas op Sabbatmêres 'n tortelduif
    Die stilte in die lug nog stiller maak,
    Deur af en toe te koer en dan te swyg —
        So kan jy hoor
        Daar onder by die voor,
Waar nou net modder van vroeëre strome vertel,

Hoe die paddatjies die ontsaglike stilte verstoor,
    Hulle kwik en kwek en kwaak,
    Dat dit kraak!
    Om dan weer almal op te hou —
        Ineens!
    Maar nie vir lang nie;
        Ontevrede bid
    En soebat hul vir reën —
        Hulle ween
En gaan dan slaap, vermoeid en uitgeput.

        Ver
        In die veld
    Gaan 'n skreeuende kiewiet te keer.
        Hy vlieg op en neer,
        Heen en weer,
    Verskrik
    Deur 'n jakkals wat tjank in sy buurt ...
        Dis roerloos stil.

    En die sterre,
    O, God, die sterre!
        Hoe mooi
    Is die firmament versier
        En uitgetooi,
    Asof daar altyd feeste word gevier
        Daar bo in die hemel,
        Ver —
    Ver van hier!

Uit Pure Pret #

Onder die groene druiweprieel,
    Onder 'n rype tros,
Wou ons graag sien wie langer was;
    Ruk ons twee korrels los.

Eerste was dit jy, wat 'n korrel kry,
    Springend tot by die tros.
Jy halfskaam, noem toe my naam,
    Gee hom aan my met 'n blos.

Ek, vir die gek, kon my glad nie rek
    Bo tot die druiwetros.
Jy halikwaad, gee my die raad.
    Nooit te wees soos 'n vos ...

Toe was dit jy, wat my regtersy
    Kielie uit pure pret.
Ek halftraag, bang om te waag,
    Moes op 'n kansie let ...

“Ope jou mond, so mooi en rond.
    Net om 'n korrel te kry!"
Heel jou gesig het toe opgelig —
    Ek was langer as jy!

5. VAN DIE LEWE #

Klaas Vakie #

Ek sal nou maar so saggies aan
    Na bed toe gaan —
My ogies is al baie vaak,
Ek dwing ál om hul toe te maak —
    Ek sal maar bed toe gaan.

Ek sal nou maar my moeder kus,
    En dan gaan rus —
My ogies is al baie moe.
Hul val vanself al sommer toe —
    Ek sal maar nou gaan rus.

Ek sal nou maar my ogies sluit;
    Die lig is uit.
    En haar gesig dié sien ek tog,
Aan haar dink ek gedurig nog —
    Al is my liggie uit.

Kinderlied #

Kom, kom, kindertjies
Buite vlieg die vlindertjies —
Hier, daar, oweral.
A1 die kleine stakkertjies
Soek hul bonte makkertjies:
Kyk, kyk, ag hoe mal!

In die kleine kommetjies
Van die bloedrooi blommetjies
Duik, duik, duik hul in.
Reguit naar die suikertjies
Vlieg die bonte duikertjies:
Suig, suig, suig daarin.

Kom, kom, kindertjies
Speel soas die vlindertjies —
Hup, hup, spring en val!
Blossies op jul wangetjies,
Sing hier soete sangetjies
Op die vlakte, oweral.

Jeug #

Hoe mooi is dit om 'n bloedjong man
    In sy volle krag te sien!
As hy net wil, en durf, dan kan
    Hy roem vir sy volk verdien.

En hoe fraai is dit om 'n fris jong nooi
    In haar lentebloei te sien!
Die toekoms is tog, o, so mooi,
    As sy maar haar volk wil dien.

Troos #

“Wat! Treur jy oor 'n meisie?
  Ou maat, jy laat my lag!
En van wanneer het die nooientjie
  Oor jou dan só 'n mag?

My kragtie, kêrel, skaam jou,
  Jy is mos al 'n man.
En die see is vol van visse —
  Ek dag jy wis daarvan!”

Aan ’n Fatalis #

Jy twyfel, sê jy, of die mens
Kan doen of laat, soas hy wens.
En vrye wil is alles skyn —
'n Hersenskim van onse brein.

Ou maat, miskien is jy nog reg,
Maar dan is jy 'n slaaf, 'n kneg
Wat blind en doof is daarenbo —
En dit kan ek van jou nie glo.

Die Advokaat en Sy Kiesers #

“As patriot ken ek geen vrees,
Want ek wil in die Praathuis wees
Om andere 'n les te lees.”
    “Ou bees!”

“Al lang genoeg trap hul ons stert,
Want ons kry krummels, hulle tert —
Ons is tog seker beter werd?”
    “Ou perd!”

“Ons land sal na die josie gaan
En al ons regte na die maan,
As ek nie hier vir julle staan.”
    "Ou haan!”

Digter Is Hy #

Digter is hy, wat digterstaal
Diep uit die grond van sy hart kan haal
En hy voel in sy hart 'n heerlike drang
Om 'n vlugtige stemming in woorde te vang.

Digter is hy, wat verse maak —
Verse wat duisende harte kan raak.
Maar hy weet nie waar hy die mag van haal.
Dis 'n gawe, wat bo uit die hemel daal.

Digter is hy, wat oog en oor
Tref met 'n pragtige woordekoor.
En hy hef sy stem op 'n lieflike maat
Van die môre vroeg tot die awend laat.

Digter is hy, wat deur en deur
Voel wat rondom en in hom gebeur;
Wat sy siel se gevoelens uit kan giet
In 'n lewende, sprekende, roerende lied.

Die Arme Digter #

O, gee hom 'n mooi begrafnis,
  Die arme digter is dood.
Hy't dwarsdeur sy hele lewe
  Geveg vir sy brokkie brood.

O, neem van die fraaiste eike,
  Die fraaiste eike se hout,
En spyker hom toe in 'n doodkis
  Met spykers van silwer en goud.

Waardering was nie sy deel nie,
  Sy laste was swaar soos lood —
O, gee hom 'n mooi begrafnis,
  En laat hom met rus ... hy is dood.

’n Sanger #

“All poets are dead"”

'n Sanger is hier opgestaan,
    Opgestaan,
    En weggegaan.

Hy was 'n sanger sonder faam,
Maar nou het hy 'n grote naam.

Dis snaaks dat sangers dood moet gaan —
    Dood moet gaan,
    Om op te staan.

The Makar #

“Nae makars but deid yins” Fae the Afrikaans o A.D.Keet (The New Makars, Tom Hubbard)

Noo here it was a makar stuid,
    here he bidd...
    afore he gaed.

But was he a makar? Man, I'd swither
for aabodie kens we kent his faither.

Is droll that makars suid lie doon —
    deid lik yon ...
    afore they staun!

Orgidee #

'n Orgidee lê op die straat,
  Dit is te laat,
    Ek kan hom nie meer red nie.
Sy arme blaartjies is verwelk,
  En uitgedroog sy lewenskelk —
    Ek kon dit nie belet nie.

'n Dogter van my eie volk
  Swier langs die straat —
    Dit is te laat,
    Dit is te laat,
        Ek kan haar nie meer red nie.

6. VADERLANDSE GEDIGTE #

’n Roepstem #

Vertel my van die oorlog, Moeder,
  En van my boetie, lankal dood;
Vertel ook van die kampe, Moeder,
  En lig my op u warm skoot.

Ag, Moeder, had ek ook 'n sussie,
  'n Sussie nou al lankal dood?
En waar tog is haar kleine graffie —
  Ek ê so lekker op u skoot.

President Steyn #

“Karakter is die hoogste goed,
Dit staan vér bo die goud se gloed,”
  Het hy ons ingeprent.
En die sieraad van ons volk is hy,
Hy't meegeniet, en meegely
  Het onse President.

Geen titel kan sy bors versier,
Hy is te hoog, te groot, te fier
  Om selfs so iets te dra.
Daar is geen ster wat fraaier blink
Daar is geen naam wat soeter klink
  In heel Suid-Afrika.

Groot Suid-Afrika #

Aan Modést Lauwerys

Van waar Zambezi dreun
Tot Tafelberg se top,
Gróót rys Suid-Afrika
Voor my verbeelding op:

Ek sien hoe groot riviere
Deur onse hand gelei,
Verkwikking bring vir diere
En mense, moeg gestry.

Ek sien hoe koringvelde
Ons dor Karoo verryk;
En oral vir ons helde
Gedagt'nis-tekens pryk.

Ek sien wel duisend stede
Verrys vanuit die grond;
Ek sien ons volk tevrede,
Herenig en gesond.

Ek sien die Afrikaander
Regeerder van sy land;
Ek sien die buitenstaander
Reik hom die broederhand.

Ek sien ons arendsvlugte,
Ek sien ons bloue lug.
Ek hoor geen droewe sugte,
Ek sien ons vryheid trug.

Suid-Afrika is groot,
Suid-Afrika is ryk —
Dit sal nog uit sy hart
En uit sy harsings blyk!

Pretoria #

Stad waar die skim van Kruger woon;
Stad waar ons Dietse Ryk sou troon —
Voortrekker-rusplaas, Voortrekker-trots,
Jy sou daar staan as 'n fiere rots!
    Pretoria
Verhewe stad,
Ons dink aan dit, en ons dink aan dat:
    Wanneer sal jy
    Weer fier en vry
Die allervoorste voortou vat?

Slagvaardig #

Jy moet nie bang wees vir die bliksem,
    Jy moet nie bibber as dit reën.
Moet ook nie skrik nie vir 'n bom nie,
    A1 was hy ook vir jou gemeen.

Wees dapper as wat swak is wankel,
    Wees manlik as jou kinders huil.
En toon die wêreld, Afrikaner,
    Wat daar vir skoons in Kaapland skuil.

O, volk van my, daar is nog arbeid,
    Daar is nog roem, daar wag nog stryd —
Jy moet nie bang wees vir wat kom nie,
    Wees slagvaardig, wees bereid!

Aan My Moedertaal #

Dreun soos kanonne wat alles verdowe,
Dreun in die berge, oor kranse en klowe,
    Eggo en eggo weerom!
Bulder en dreun met die waterval-strome,
Jubel en juig met die voëls in die bome,
    Juig en jubel alom!

Vlieg met die winde oor woude en rande,
Styg met die kwartel uit koringlande,
    Om in die bossies te skuil!
Sweef met die voëls wat dwaal by die wolke,
Bruis in die strome en draai in die kolke
    Rondom die kafferskuil!

Klink oor die vlakte helder en luide,
Galm jou klank van die Noord tot die Suide,
    Dwarsoor Rhodesia!
Klink met die klank van die kerkklok-toring,
Ruis in die ranke en ruis in die koring,
    Taal van Suid-Afrika!

Kom, Afrikaners! #

Kom, Afrikaners, sing 'n lied,
Laat hoor jul stem in sang:
'n Nasie in sy lentetyd
Gevoel die digkuns-drang.

Hef aan 'n lied van heldedaad,
Van mag teen owermag:
'n Nasie wat sy helde eer,
Sal niemand ooit verag.

Sing saggies van jul vroueleed —
Maar wees op almal trots:
'n Nasie, wat sy vroue eer,
Staan vaster as 'n rots.

Sing oor die vrede van die veld,
Van koppie en van rand:
'n Nasie wat sy woonplaas eer,
Bou nooit op losse sand.

Kom, Afrikaners, sing nou luid,
En laat jul stemme hoor,
Hef aan 'n lied wat oweral
Ons nasie sal bekoor!

Sing uit Jou Lied #

Sing uit jou lied, in vryheidsnaam
En wees nie skaam, en wees nie skaam.
Wat baat jou frisse, vrye lug,
As jy maar ewig deur moet sug?
Sing uit jou lied, en wees nie skaam,
Suid-Afrikaner, hoog jou naam!

Sing uit jou lied, en maak jou vry,
'n Volk kan nie in kettings bly.
Al is die hek nog steeds gesluit,
Jy moet daaruit, jy moet daaruit.
Sing uit jou lied, o, volk van my!
Jy mag nie meer in kettings bly!

Sing uit jou lied, oor velde ruim,
Die vyand druk op jou sy duim;
Verweer jou goed, laat loop jou bloed,
Ná bitter stryd smaak vryheid soet.
Verweer jou goed, o, volk van my,
Ek sien jou vry, ek sien jou vry!

Aan die Vierkleur #

Opgedra aan die Nasionale Party van Transvaal

Rooi, wit, blou en groen,
Wat het die Boere met jou gedoen?
Het jul jou diep in die graf laat daal
Saam met die keur van ou Transvaal?
Het hulle dit met jou gedoen,
Rooi, wit, blou en groen?

Kyk hoe 'n nasie van een miljoen,
Wakker geskud deur 'n groot klaroen,
Rondom jou vaandel samestroom,
Roep om sy vryheid, en nie meer droom!
Wapper maar fier en vry en koen,
Rooi, wit, blou en groen.

Rooi, wit, blou en groen,
Kyk hoe ons mense jou kleure soen!
Nimmer sal jy uit ons land verdwyn,
Steeds sal die sonlig op jou skyn.
Wapper maar fier en vry en koen,
Rooi, wit, blou en groen!

Die Twee Boodskappers #

Aan dr. W.J. Leyds

["IK wil u nog vertellen, dat in mijn verzameling een foto voorkomt, waarop onze Vierkleur een groote en tevens eigenaardige rol speelt, die altijd gedachten bij mij opwekt. Het stelt voor een groep jonge meisjes (waaronder genl. De la Rey's dochter), die allen gehuld in een Vierkleur, een dans uitvoeren op het veld. Het pathetische van het geval bestaat daarin, dat de foto genomen is né het tractaat van Vereeniging toen de boodschapper van genl. De la Rey het bericht van het sluiten van den vrede aan zijn commando had overgebracht, doch verkeerd, zoodat het commando in het denkbeeld werd gebracht, dat vrede was gesloten met behoud der onafhankelijkheid. Bij mij wekt deze foto niet droefheid alleen: ook hoop.” — Uit 'n brief van dr. W. J. Leydsl]

        Eerste boodskapper:

    Ek kom om julle die nuus te bring:
    Mense, juig, wees bly en sing:
    Transvaal het nie verniet gely —
        Transvaal is vry!
        Transvaal is vry!

Hoera vir die Vrystaat, hoera vir Transvaal!
Hoera vir ons groot Kommandant-generaal!
Hoera vir ou Kaapland, hoera vir Natal!
Hoera vir die burgers van oweral!

        'n Verkenner:

    Wat is dit hier, wat is dit hier,
    Word hier 'n bruilofsfees gevier?

        Meisies:
    Nee, ons het net die nuus gehoor:
    Tranvaal het sy vryheid nie verloor!

En die nooientjies dans, dat die stof so staan,
Met die vierkleurvlag, om hul lyf geslaan.
        Dis polka-swaai
        En Kaapse draai;
        Dis siembamba
        En siembamba —
        Uit blydskap vir
          Suid-Afrika!

    Die nooientjies dans,
      En die seuns en mans
    Dié lag en skerts en gaan te keer
      En sing dan weer:

    “De Wet was hier, De Wet was daar,
      De Wet was vasgekeer;
    Maar dit was glad nie, glad nie waar —
      Hy flous hul telkens weer!

    De Wet was hier, De Wet was daar,
      De Wet was oweral;
    Ou French, wat hom 'n strik wou span,
      Het self daarin geval!

    En De la Rey het opgetree
      Daar bo in die Transvaal,
    Methuen het hy 'n pak gegee —
      En so sy roem behaal!”

Toe die boodskapper oor die rand verdwyn,
Toe hoor hy nog steeds die bekende refrein:

“Hoera vir die Vrystaat, hoera vir Transvaal!
    Hoera vir ons groot Kommandant-Generaal!
    Hoera vir ou Kaapland, hoera vir Natal!
    Hoera vir die burgers van oweral!”

        Tweede boodskapper:

    Wat is dit hier, wat is dit hier?
    Skaam julle, om nou fees te vier!
    Skaam julle, as ons vryheidsvaan
    Diep in 'n doodkis word toegeslaan;
    Dáár op die dorp Vereeniging
    Word nie gedans nie, word nie gesing.
    Dáár is net weemoed, dáár is net rou,
    Dáár is geen hoop nie vir my en jou.

    En elke oog skiet vol met trane,
        Elke keel die sluk,
    Herdenkend al die deurgestane,
        Het meer as een gesnik ...
    Maar op 'n tentwa, luid en klaar,
    Bid toe die leier van die laer:
    “O Gy, die oor ons lot regeer,
    Maak ons weer ééndag vry, o Heer!

En die nooientjies dink by die awendskyn:
Ons hoop is nie weg nie, sal nooit verdwyn;
        En een dié sê,
        Terwyl hul lê
    En staar na die Suiderkruis:

    “Vryheid! Vryheid! Dierbaar ding,
    Waar elke mens na smag,
    Van jou sal ek gedurig sing —
    Jy is 'n volk se krag!”