'n Hollands-Afrikaanse Aristokraat

‘n Hollands-Afrikaanse Aristokraat #

Jonkheer C.G.S. Sandberg (1866 – 1954) #

Christoph George Sigismund Sandberg is in 1866 in Magelang, Java gebore uit ‘n aristokratiese Nederlandse geslag. Hy het die titel “Jonkheer” gehad, wat min of meer gelykstaande is aan die Engelse “Sir” en dui op lid van die laer adel.

In 1888 het hy na Pretoria gekom en in diens getree van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Hy het gou vlot Afrikaans leer praat, hom heeltemal met die Boere vereenselwig en as populêre jongman die bynaam “Sandjie” gekry. Vanaf 1895 tot 1899 was hy agtereenvolgens sekretais van i die Staatssekretarisse W.J. Leyds en F.W. Reitz. Omdat die Staatspresident en die Staatssekretaris (al of nie bygestaan deur die Uitvoerende Raad), die Daagliklse Bestuur van die regering gevom het, het alle amptelike regeringstukke deur sy hande gegaan. Na ‘n paar aanvanklike skrobberings het die President hom as ‘n bekwame en getroue amptenaar aanvaar. In die tyd (1894 – 1899) het hy President Kruger feitlik daagliks gesien.

Met die aanvang van die Anglo-Boereoorlog in Oktober 1899 het hy aansoek gedoen om op kommando te gaan. Hy het burgerskap van die Z.A.R. gekry en is na die Natalse oorlogsfront gestuur waar hy militêre sekretaris van Genl. Louis Botha geword het. In hierdie hoedanigheid was hy ooggetuie van die veldslae daar, het self deelgeneem aan sommige gevegte en ‘n vertroueling van Genl. Botha geword.

In Julie 1900, toe die regering van die Z.A.R. Pretoria verlaat het, is hy teruggestuur na Holland om Dr. Leyds (wat die Republiek se amptelike verteenwoordige in Europa was) by te staan. Lg. het hom op ‘n geheime reis na Suez gestuur, waar die Gelderland met Pres. Kruger aan boord, sou aandoen. Hy moes boodskappe oorbring aan die President.

Na die vredesluiting het hy aan die Sorbonne in Parys gestudeer en ‘n doktorsgraad in geologie verwerf. Vanaf 1906 – 1909 was hy geoloog in Johannesburg, en later in Nederlands Oos-Indië. Daarna het hy na Holland teruggekeer. Tydens en na die Eerste Wêreldoorlog het hy noue bande gehad met die Afrikaanse studente in Holland.

“Toe Sandjie, jy ken mos die Bybel beter as ek. Sit jy nou ‘n teks vir die President by!” So het Genl. Louis Botha een namiddag vir hom gesê, toe hy soos gewoonlik ‘n berig oor die dag se gebeure op die Natalse front (gedikteer deur Genl. Botha) moes telegrafeer aan die President in Pretoria. Oom Paul het verwag dat daar altyd ‘n Bybelteks by die berig moes wees. Behalwe militêre sekretaris van die general, was hy ook oorlogskorrespondent van verskeie Europese koerante. Hy het vlot Frans en Duits gepraat.[1]

Ek het gedurende my studietyd in Holland vir Dr. Sandberg baie goed leer ken.[2] Hy was ‘n vriend van my en ons was saam in Amsterdam op die redaksie van Dietsche Stemmen. [3] Hy was destyds reeds pro-Duits. [4]

Daar het ‘n paar jaar gelede ‘n artikel oor hom in Die Brandwag verskyn, geskryf deur “Judex” n.a.v. ‘n boek wat hy geskryf het oor Paul Kruger se Boere. Dit is in 1943 in Holland gepubliseer maar ongelukkig word die uitgewer nie vermeld nie.[5]

Senekal
19 Sept 1951

Die Redakteur
Die Brandwag
Johannesburg.

Geagte Vriend,

Ek kom u nader in verband met ‘n ou vriend van my in Holland, nl. Jonkheer Dr. C.G.S. Sandberg. In Die Brandwag van 15 Julie 1949 het u ‘n artikel oor hom gepubliseer deur “Judex”, onder die titel: Geheime Reis na Suez. Wie “Judex” is weet ek nie, en u sal my ‘n groot guns bewys deur om hierdie brief ter insae te gee.

Dr. Sandberg het my destyds ‘n kopie van die foto van Pres. Kruger in sy kajuit op die Gelderland gegee, maar in teenstelling met Judex se byskrif daarby, het hy my vertel dat een van die skeepsoffisiere dit vir hom gegee het, en dat hy dit nie self geneem het nie. ‘n Geraamde vergroting daarvan het ek ‘n aantal jare gelede geskenk aan die Oologsmuseum in Bloemfontein, waar dit tans hang. Dit is glo die enigste foto van Oom Paul waar hy sit met wit seilskoene aan.

Op my aandrang het my seun, wat in Amsterdam in Radiologie studeer, Dr. Sandberg in Den Haag gaan besoek. Oor die besoek skryf my seun: “Jonkheer Sandberg is ‘n waardige oubaas en nog baie vital vir sy 85 jaar. Trouens, dit lyk of hy die lewenskrag het van iemand van 30 – 40 jaar. Toe ek hom vra of daar nie iets is wat ons vir hom kon doen nie, was sy enigste versoek aan almal: As julle vandag sê kom Suid-Afrika toe, dan begin ek dadelik inpak. Jy weet ek het velskoen gedra in Transvaal. Daar is net een plek in die wêreld waar ‘n mens velskoene kan dra en dis Transvaal. Ek wil weer my velskoende aantrek en daar tot rus kom.”

Hy woon alleen in ‘n kamer, deur sy volk verstoot. Sy groot sonde was dat hy aan die Nasionaal Sosialistiese Bond behoort het gedurende die Tweede Wêreldoorlog en dat het gepraat het van die “gewese Koningin”, nadat Koningin Wilhelmina na Engeland vertrek het. Maar selfs sy vyande respekteer hom (al klink dit ‘n bietjie na ‘n weerspreking) omdat hy altyd eerlik was met sy opvattings en geen voordeel uit die oorlog getrek het nie. Hy sê hy is nog steeds “’n nasionalis”, hy praat vlot Afrikaans en onthou alles van President Kruger. Besonder ontroerend was dit toe ek hom vra presies hoe die taal was wat Oom Paul gepraat het. Was dit so half Hollands? “Man, sê hy, dis dieselfde taal wat ek en jy nou hier praat!”

Tot sover die brief. In die Anglo-Boereoorlog het hy die hele Natalse veldtog meegemaak. Sy grootste begeerte is om permanent terug te kom na Suid-Afrika. Nou wonder ek of u en Judex nie ‘n plan kan maak om Dr. Sandberg se hartewens te vervul nie. Soos u weet is hy geoloog van beroep, en miskien kan een of ander Afrikaanse maatskappy op hierdie gebied hom gebruik. Van aalmoese sal hy, soos ek hom ken, seker nie wil leef nie. Soos u sien, skryf my seun dat die oubaas nog baie aktief is, en wie weet wat hy nog op geologiese gebied in ons land kan presteer!

Ek sal hom baie graag dikwels as my gas wil ontvang op Senekal. Ek het ook al gewonder of ‘n bemiddelde Afrikaner hom nie onder sy beskerming kan neem nie.

Maar ek hoop u en Judex sal saam met my voel dat ons volk veel verskuldig is aan Dr. Sandberg en dat ons ons bes moet doen vir hom. Aan Judex wil ek graag ook meedeel dat Dr. Sandberg my ‘n getekende eksemplaar van sy boek Twintig Jaren onder Krugers Boeren in Voor- en Tegenspoed wil stuur. Die boek is glo haas onverkrygbaar in Holland.
By voorbaat baie dankie vir al u moeite.
Met vr. Groete,
A.D.K.

Ek sal kyk of ek nie ‘n beweging op tou kan sit nie om Dr. Sandberg te laat uitkom. Ons as volk het ‘n verpligting teenoor hom vir wat hy vir ons gedoen het. [6] Dat hy nou so in Holland vervolg was! Hulle het hom ontkieser, sy hele biblioteek verbrand en sy besittings verbeurd veArklaar, oor sy houding in die Tweede Wêreldoorlog. [7] Die Hollanders kan van ons ‘n les leer in vergewensgesindheid. [8]

Ons sal nou maar moet afwag en sien wat die redakteur van Die Brandwag en Judex kan uitvoer. Intussen sal ek bly wees as jy by Dr. S. se twee vriende in ons gesantskap in Den Haag kan uitvind hoe sy finansiële posisie is, of hy iets besit en wat sy moontlike inkomste is, want dit sal die mense hier wil weet. [9]

Baie dankie vir u brief in antwoord op myne in sake Dr. Sandberg. Ek is bly om te sien dat u dadelik aan die werk gespring het! [10]

Ek het weer ‘n slag Judex se artikel gelees. Dis nogal vermaaklik dat hy daarin sê dat Dr. Sandberg reeds oorlede is. Die oubaas (aan wie ek die artikel pos) sal nou seker sê soos Mark Twain, toe ‘n koerant sy heengaan voortydig gepubliseer het: “The report is grossly exaggerated!” [10]

Gister het ek weer ‘n brief ontvang van Rudolph Visser, redakteur van Die Brandwag. Hy sou Prof. Van der Westhuysen van Pretoria spreek oor Dr. S. om te kyk wat hulle kan doen. Hy is bly dat ons navraag gedoen het oor Dr. S. se finansiële omstandighede, want dit sal sy vriende wil weet alvorens hulle optree in sy belang. [11]

Jy kon my geen beter present gestuur het nie as die boek van Dr. Sandberg. Ek dink Piet Nienaber sal jaloers wees, want dit sal goed te pas kom by sy Africana versameling.[12] Dis ‘n unieke boek en van groot waarde vir ons historici, omdat dit soveel “inside information” bevat. [13]

Twintig Jaren Onder Krugers Boeren in Voor- en Tegenspoed het ek toe verlede week ontvang, met ‘n mooi byskrif voorin van Dr. Sandberg. Dit is ‘n lywige boek van 392 bladsye en is gedruk gedurende die Duitse besetting van Holland in April 1943. Wat ‘n uiters interessante boek! Dit bevat feitlik die hele geskiedenis van die Z.A.R., o.a. van die Jameson Raid, die verslae in Natal (waarvan hy ooggetuie was) ens. Danie Theron het hy blykbaar goed geken. Merkwaardig is ook dat Dr. Sandberg die belang van Afrikaans as taal vir en van die Afrikaner, ingesien het nog voor Dr. Mansvelt en die regering van die Z.A.R.!

Vir die deurbraak van Builler in Natal het hy ook ‘n interessante verklaring wat ek nog nêrens anders gelees het nie. [14] Die byskrif lui:

Den Haag
28 Aug 1951.

Aan Dr. A.D. Keet, Senekal

Met grote blydskap maak ek gebruik van die geleentheid, waarin jou seun my gestel het om my ou vriend – nog jong in leeftyd- en eertydse mederedakteur van die Dietsche Stemmen die onvolpresen Afrikaner digter A.D. Keet, hartelik te groet en die allerbeste wense toe te wens.

Soos voorheen bly ek nog altyd jou so seer toegeneënde vrind

Sandberg

In Dr. S. se lys van geraadpleegde werke in sy boek, sien ek dat hy en J.P. Viljoen saam nog ‘n geskrif uitgegee het gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Dit heet Suid-Afrika en Wij en is gepubliseer in Leiden in 1941 (uitgewer onbekend). Hierdie J.P. Viljoen is ons ou vriend wat lank hier op Senekal was as bestuurder van die Romery. Gedurende die oorlog het hy teruggekom uit Europa via Vichy-Frankryk en Spanje en het toe hoofbestuurder van Santam in Kaapstad geword. Sodra sake i.v.m. Dr. S. se koms in die haak is, sal ek Dr. Viljoen vra om hom in die Kaap te ontmoet en daar te huisves. [15]

Suid-Afrika en Wij sal jy baie interessant vind. Dit is uitgegee tydens die Duitse besetting van Holland, en manmoedig gekant teen die voorstel om Hitler tot koning of Fuhrer van al die Germaanse nasies (dus ons ook) te maak! Volgens Sandberg en Viljoen sou die Afrikaners, as demokrate, daarteen skop, en tereg ook! Oubaas Santjie het my vertel dat hy verbaas was dat die Duitsers nie die geskrif onder sensuur geplaas het nie.[16]

Ek het ‘n geesdriftige brief ontvang van Dr. Viljoen. Soos ek verwag het, sal hy hom ontvang in die Kaap. Verder is hy bereid om daar geld te kollekteer vir ons doel. [17]

Die reaksie hier ten bate van die Oubaas was maar swak. Die mense is sku vir “lyste”. Ek hoop om more aan Johan Schoeman te Hartbeestpoortdam te skryf. Hy is ‘n bemiddelde man en sal miskien ook wil help. Laat ons maar hoop vir beste.[18]

Baie dankie vir al die moeite wat u gedoen het i.v.m. Dr. Sandberg. Ons waardeer u belangstelling en hulp baie. Hy is een van die edelste en eerlikste mense wat ek ken. [19]

Van verlede Dinsdag toe ek Dr. S. op Arlington-stasie gaan haal het, moes ek byna al my aandag aan die oubaas gee. Rina en die kinders hou baie van hom en bestee ook aan hom die nodige sorg, met die gevolg dat hy ewe gelukkig lyk in ons huiskring. Saans vertel hy vir die jongspan allerhande stories en hulle hang aan sy lippe. Hy ry gereeld met my saam na plaasbesoeke en geniet dit. “Ik ben verzadigd en verkwikt, en aanmerkelijk aangedikt!”[20]

Vanaand is dit net ‘n week gelede dat ek hom na Arlington geneem het, om ‘n trein na Pretoria te haal. [21] Op die 27ste sou hy by Dr. Theo Wassenaar in Pretoria wees, waar hy ‘n paar weke gaan bly. Sy gesig en gehoor is nie meer van die beste nie.[22]

Kort nadat hy hier weg is na Pretoria is hy daar hertroud met die weduwee Aletta van Heerden, en nie lank na die huwelik nie, is hy daar oorlede. Hy is ook daar in sy geliefde Transvaal begrawe. [23]

Jonkheer Dr. Sandberg se verdienstelikheid gedurende die Anglo-Boereoorlog is in 1939 deur die Unie-regering erken deur die toekenning van die Anglo-Boereoorlog medalje en die Dekoratie voor Trouwe Dienst (D.T.D.). Dit het gepaard gegaan met ‘n pensioen wat maandeliks in Holland aan hom uitbetaal is.

Verwysings

#

  1. Brief aan F.A. van Jaarsveld, 21 Mrt 1960.

  2. Brief aan Redakteur Die Brandwag, 19 Sept 1951.

  3. Brief aan Adv. C.R. Swart, 23 April 1953.

  4. Brief aan A.D.K. II, 4 Mei 1960.

  5. Brief aan A.D.K. II, 15 Sept 1951.

  6. Brief aan A.D.K. II, 11 Nov 1951.

  7. Brief aan F.A. van Jaarsveld, 21 Mrt 1960.

  8. Brief aan A.D.K. II, 11 Nov 1951.

  9. Brief aan A.D.K. II, 23 Sept 1951.

  10. Brief aan Redakteur Die Brandwag, 26 Sept 1951.

  11. Brief aan A.D.K. II, 7 Okt 1951.

  12. Brief aan A.D.K. II, 17 Okt 1951.

  13. Brief aan A.D.K. II, 21 Okt 1951.

  14. Brief aan Redakteur Die Brandwag, 24 Okt 1951.

  15. Brief aan A.D.K. II, 21 Okt 1951.

  16. Brief aan P.J. Nienaber, 3 Mrt 1954.

  17. Brief aan Redakteur Die Brandwag, 6 Nov 1957.

  18. Brief aan A.D.K. II, 13 Julie 1952.

  19. Brief aan Adv. C.R. Swart, 18 Aug 1953.

  20. Brief aan A.D.K. II, 19 Mrt 1953.

  21. Brief aan A.D.K. II, 3 Mei 1953.

  22. Brief aan J. Kromhout Snr., 27 April 1953.

  23. Brief aan A.D.K. II, 24 Mrt 1967.